PROFESIE VAN DIE 153 VISSE !

 

 

In Job. 33:14 lees ons hierdie woorde: "WANT God spreek op een, ja, op twee maniere; maar die mens let daar nie op nie." Die Bybel is ‘n totaal verstommende boek. Dit is die Woord van die almagtige God en die diepte daarvan sal ons sekerlik nie in hierdie bedeling kan uitput nie en ook nie in die een hierna nie, want die Woord is van ewigheid tot ewigheid. Die ganse Bybel met al sy dele is dan ook vir ons van belang en geen deeltjie daarvan kan enigsins gering geskat word nie. In 2 Tim. 3:16 kry ons die bekende gedeelte in hierdie verband as ons die volgende daar lees: "Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering ... " Elke woord is deur God geïnspireer en elke woord is ook daar om ons te leer.

Daar is baie besonderse en ook geliefde gedeeltes in die Skrif wat maklik verstaanbaar en op die man af is. Dan is daar egter ook dele wat moeiliker is om te verstaan en andere selfs wat net eenvoudig blyk asof dit geen spesifieke waarde insigself het nie. Dit lyk asof sommige verse of sinsnedes maar net daar is vir historiese akkuraatheid en so meer. Dat laasgenoemde wel ook so is, kan nie betwyfel word nie, maar verseker is dit nie al rede hoekom sekere gedeeltes in die Bybel geplaas is nie. Soos al voorheen genoem is, het die Woord van God ten minste drie vlakke van verklaring. Daar is altyd ‘n geestelike boodskap (met verlossing as oogmerk), dan ‘n letterlike boodskap (wat nie deur ‘n vergeesteliking vervang mag word nie) en laastens ook ‘n profetiese boodskap (wat aanvanklik verborge mag voorkom).

Baie profetiese gedeeltes het natuurlik ook bloot ‘n eenvoudige en letterlike verklaring (m.a.w. net soos dit daar geskrywe staan), maar aan die anderkant is daar ook profetiese gedeeltes wat in ‘n groter patroon ingeweef is en m.b.v. tipe beelde en simboliek aan ons verklaar word. Nou meer oor die 153 visse. Ons lees daarvan in die Nuwe Testament, in Joh. 21 - die laaste en baie insiggewende hoofstuk van die evangelie volgens Johannes. Die Here Jesus Christus het op hierdie stadium reeds twee keer aan sy dissipels verskyn na sy opstanding uit die dode en weer ‘n keer sou Hy dit ook doen. In Joh. 21:1 sien ons dat Petrus en ‘n klompie ander dissipels gaan visvang het by die see van Tiberias, soos dit hier genoem word. Dit is die Romeinse naam vir die See van Galilea. Alreeds hier sien ons dat daar ‘n konnotasie met die heidense nasies is. Die Romeinse Ryk het natuurlik ook op hierdie stadium oor Israel regeer. Die gedeelte wat hierna volg, oor die groot visvangs, is sonder twyfel ‘n heenwysing na die laaste oomblikke voor die wederkoms van Christus en die tyd daarna.

Die herleefde Romeinse Ryk sal ook juis in beheer van die wêreld wees in die tyd rondom die wederkoms. Hierdie geprofeteerde tyd is dan ook reeds byna met ons. Die dissipels het die hele nag lank probeer, maar geen vis gevang nie. Vroeg die volgende oggend, "toe dit al dag geword het", het hulle Jesus op die strand sien staan, maar nie dadelik besef dat dit Hy was nie (vers 4). Johannes het vir Petrus daarop gewys dat dit Jesus was, waarop lg. onmiddellik in die water gespring het en strand toe geswem het. Soos ek al tevore geskryf het, is daar etlike gedeeltes in die Bybel wat daarop dui dat die wederkoms sal plaasvind vroeg op die derde dag - in die derde millennium n.C. ‘n Dag is vir God soos ‘n duisend jaar en ‘n duisend jaar soos ‘n dag (2 Pet. 3:8). Daar sal dus tweeduisendjaar wees waarin die bedeling van die Kerk voltooi sal word en dan sal die wederkoms plaasvind. Kort hierna sal die duisendjaar van vrede op aarde aanbreek met Christus as Koning (Op. 20:1-6).

In Joh. 2:18-22 lees ons waar Jesus sy dissipels ingelig het dat Hy die tempel "in drie dae" sal oprig en dan ook hierdie woorde: "Maar Hy het oor die tempel van sy liggaam gespreek." Jesus het ook vroeg op die derde dag opgestaan (na sy kruisdood) en wel met sy nuwe verheerlikte liggaam, maar is dit al waaroor hierdie gedeelte gaan. Wie is ook die liggaam van Christus? Natuurlik die Kerk van Christus - sy gemeente. Hy is die hoof van sy Kerk en ons (ware weergeborenes) is die liggaam (Efes. 1:22,23). Net soos wat Jesus vroeg die oggend van die derde dag opgestaan het, sal sy liggaam, die Kerk, vroeg op die oggend van die derde dag - die derde millennium gereed wees om die hemel binne te gaan. Nou kan ons maklik verstaan wat dit beteken het toe Christus daardie dag, vroeg die oggend, op die strand gestaan het en ‘n maal berei het vir sy dissipels - sy volgelinge. Hy is nou reeds aan die hemelse strand en berei die bruilofsmaal voor vir elkeen van ons wat eersdaags daar met Hom sal wees.

As ons nou verder na die gedeelte in Joh. 21 gaan kyk, word dit al hoe interessanter. Die see dui natuurlik op die see van nasies. Die groot visvangs het plaasgevind toe hulle die net aan die regterkant uitgegooi het - ‘n heenwysing na Christus wat tans aan die regterhand van die Vader sit en ook na die nasie-oordeel van Matt. 25:31 en verder. Die een groep nasies of dan die skape sal die koninkryk binnegaan, maar nie die ander nasies (die bokke) wat aan sy linkerkant sal staan nie. Die skape (hulle wat Israel goedgesind sal wees in die groot verdrukking en nie teen Christus sal opstaan nie) sal aan die regterhand van Christus staan na die oorlog van Armageddon. Net die visse wat aan die regterkant van die skuit gevang is, sal dus die hemel ingaan, vergelykenderwys beskou. Die parallel met Noag se ark kan ‘n mens ook nie hier ontglip nie. Net hulle wat in die skuit of in die ark was (wat weergebore is), sal gered word. Dit is ook baie betekenisvol dat die net nie geskeur het nie en dat al die visse aan land gekom het (vers 11). Geen ware kind van God, wat gewas is in die bloed van die Lam en dus waarlik weergebore is, sal ooit verlore gaan nie. Hulle het die Heilige Gees ontvang as gawe en is verseël as kinders van God - tot in ewigheid. Hulle is egter baie min.

Verder het Jesus die dissipels aanvanklik geroep met die boodskap dat Hy hulle vissers van mense sal maak. Petrus, wat gou in die water gespring het, was juis die een wat heel eerste op pinksterdag gepreek het en die eerste drieduisend mense het tot bekering gekom. Wat ‘n visvangs was dit nie? Dit was die eerste bekeerlinge en die begin van die kerkdispensasie. In vers 8 sien ons dat die ander dissipels in die skuitjie gebly het en "hulle was nie ver van die land nie, maar omtrent tweehonderd el."

Hierdie is ‘n heenwysing na die tweeduisend jaar van die bedeling van die Kerk op aarde. Tweehonderd is ‘n veelvoud van tweeduisend en ‘n duidelik afgemete maat (Sien ook Sag. 8:23). In hierdie tydperk moet al die visse (geredde mense) ingebring word in die koninkryk van God (die hemelstrand) en om te dink hulle was al die tyd "nie ver van die land nie". Die skrywer van die Hebreërboek het daardie tyd al gesê hy leef in die laaste dae (Heb. 1:1). Hierdie tydperk is vandag so te sê verstreke. Op die strand het Jesus reeds ‘n koolvuur aan die gang gehad met vis daarop (vers 9). Die pas gevangde vis was dus nie bestem vir die vuur nie. Hulle moes uitgesleep word en getel word ! Kan die vuur moontlik dui op die tyd van God se toorn - die groot verdrukking en dat hierdie visse (gereddes) nie hierdie tyd sal deurmaak nie, maar wel voor die tyd uit die see van nasies weggeruk sal word ?

In Joh. 21:11 is die net op die land getrek, "vol groot visse, honderd-drie-en-vyftig in getal; en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie." Hierdie visse dui dan op hulle wat God geken het. Die Groot Visserman, Jesus Christus, is vandag nog besig om aas uit te gooi deur die Heilige Gees om mense te oortuig dat hulle sonder God totaal verlore is in die see van nasies. Min reageer egter op hierdie uitnodiging en ander reageer bloot halfhartig. ‘n Flou bekering of blote ‘aanneming van Jesus’ is net nie dieselfde as ‘n waaragtige bekering en ‘n weergeboorte nie. Baie in ons dag is bloot sogenaamde Christene, maar hulle dra nie die vrug wat by die bekering pas nie. Hulle het geen waarborg dat hulle reg is vir die ewigheid nie. God self moet ‘n mens aanneem as sy kind en dit in jou hart bevestig deur sy Heilige Gees (Rom. 8:14-17).

Nou kom ons by die getal van die visse wat uit die see getrek is, nl. 153 ! Wat sou dit beteken? Is dit maar net toevallig so opgeteken sonder dat dit enige verdere of dieper waarde vir ons inhou? Dit kan tog nie wees nie, want God is ‘n God van orde en alles is haarfyn deur Hom geïnspireer en is daar om ons te seën. Elke deel van die Skrif is van besondere belang en so ook hierdie getal.

In hulle TV program, Prophecy in the News, het J.R. Church en Gary Stearman van Amerika hierdie getal bespreek nadat hulle heelwat daaroor nagelees het. Hulle noem dat die ou kerkvader Jerome reeds van mening was dat die 153 visse gedui het op die Christene van al die eeue. Sommige teoloë van vroeër het ook gemeen dat dit dui op die aantal nasies wat sal bestaan in die tyd van die einde - kort voor die wederkoms. Ons weet egter vandag dat daar reeds veel meer nasies is as net 153. Baie interessant is egter die feit dat daar in die 20ste eeu alleen wel 153 nasies tot stand gekom het. Israel is so ‘n voorbeeld. Hulle het bv. in 1948 ‘n staat geword. Talle ander volke en stamme het weer afgeskei van ander groter state ens. So het baie nasies in hierdie eeu onafhanklikheid verkry. Ons geliefde land het self eers in 1961 amptelik ‘n onafhanklike republiek geword. Sou die getal 153 dan moontlik dui op ‘n sekere volledigheid of voleinding?

In sy boek Number in Scripture, maak E.W. Bullinger melding daarvan dat die term "sons of God" sewe keer in die Ou Testament voorkom. As hierdie woorde nou in die Hebreeus beskou word en elke Hebreeuse letter se getallewaarde word geneem en saam bereken (iets wat die Jode gereeld doen), dan is die numeriese som presies 153. Hierdie kan nie toevallig wees nie en is heeltemal in lyn met die hele gedagte rondom die Kerk van Christus. In Gal. 4:5 lees ons in hierdie verband dat "ons die aanneming tot kinders kan ontvang." Die visse dui mos juis op die kinders van God. Daar is nog verdere soortgelyke patrone wat ook in die Skrif voorkom. As die Griekse ekwivalent van die term "joint heirs" of dan mede-"erfgename van Christus" (Rom. 8:17) geneem word en die numeriese waarde (Griekse letters het ook elk ‘n getallewaarde) daarvan bereken sou word, dan werk dit uit op 1 071. Dit is presies 7 maal 153. Die Griekse woord vir "net", waarin die vis gevang is, se numeriese somtotaal is op sy beurt weer 1 224. Dit is presies 8 maal 153. Die syfer 8 is natuurlik die getal van die ‘nuwe begin’ of ‘nuwe geboorte.’ Aan die einde van die 7de millennium gaan ons die ewigheid binne - in die hemel - ‘n nuwe begin. Na die 7de dag van ‘n week kom weer die 1ste dag. Onthou God is die Meester-outeur van die Bybel.

Dit is insiggewend om daarop te let dat dit dieselfde Johannes is, wat hier in sy weergawe van die evangelie praat van die 153 visse, wat ook die boek Openbaring geskryf het. Daar lees ons ook van ‘n besonderse getal, nl. 666. Hy sê dan juis ook dat hy wat verstand het die getal moet bereken (Op. 13:18). Dit is dus glad nie so vreemd of onbybels om met getalle te speel nie.

Die skrywer Jerry Lucas het in sy boek, Theomatics, ook interessante ontdekkings oor Joh. 21 uiteengesit. Hy het bevind dat die Griekse Textus Receptus grondteks (van o.a. ons ou Afrikaanse vertaling van 1933/1953 en die Engelse King James Bybel) die volgende asemrowende patroon bevat. Die numeriese waarde van al die letters in die hele Joh. 21 is ‘n veelvoud van 153. Dit is nie al nie. So is ook die numeriese somtotaal van elke paragraaf en ook van elke sin veelvoude van 153. Een van die mees verstommendste feite oor hierdie getal visse word egter vir ons in E.W. Bullinger se boek, Number in Scripture weergegee. Hy het gegaan en in die vier evangelies gaan tel met hoeveel afsonderlike individue Jesus Christus in sy wandel op aarde kontak gemaak het. Dit is nou mense wat Hy gesond gemaak het, met wie Hy gepraat het ens. Die somtotaal van al hierdie mense wat spesifiek in die Skrif genoem word, is niks anders nie as: 153 !

Laastens noem ek net die volgende brokkie inligting wat moontlik met die groot visvangs van Joh. 21 verband hou. In die Jerusalem Post van 18 Maart 1995, p.9, is berig dat die Israeliese regering bekend gemaak het dat die jaar 1994 ‘n baie goeie jaar was vir diplomatieke betrekkinge en dat Israel op daardie stadium formele betrekkinge gesluit het met altesaam, raai hoeveel, ja, 153 lande ! Is dit nog ‘n teken dat ons die laaste van die dae betreë het ?